Meer as die helfte van eNCA se werknemers kan moontlik deur ’n voorgestelde herstruktureringsproses geraak word.
Business Day berig, met verwysing na interne Artikel 189-kennisgewings wat deur die Sunday Times gesien is, dat 171 van die nuuskanaal se 309 werknemers moontlik afgelê kan word.
Die voorgestelde proses raak glo werknemers in die nuus-, tegniese en uitsaaiafdelings. eNCA beplan volgens die berig om sy bestaande struktuur met ’n kleiner, geïntegreerde en digitaal-gefokusde nuuskamer te vervang.
Geen finale besluit oor afleggings is volgens die kennisgewings geneem nie. Die konsultasieproses sal na verwagting tot einde November duur, met moontlike diensbeëindigings vanaf 1 Desember 2026.
Nuusflits het eNCA en eMedia Holdings om amptelike kommentaar genader. Die berig sal opgedateer word sodra ’n antwoord ontvang word.
Bron: Business Day / Sunday Times





