Appel, Ricus Nel, Riaan Benadé en Bok van Blerk het kragte saamgespan vir Yippee-Ki-Yay, ’n nuwe enkelsnit wat geloof, familie, harde werk en trots op Suid-Afrika en Afrikaans vier.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê die liedjie het ontstaan uit Appel se persoonlike inspirasie en is aanvanklik as ’n solo-opname beplan. Dit het egter uitgebrei toe Ricus Nel, Riaan Benadé en Bok van Blerk hul stemme by die projek gevoeg het. Yippee-Ki-Yay bring vier bekende Afrikaanse stemme bymekaar in ’n liedjie wat volgens die kunstenaars daarop gemik is om mense te laat saam sing en met groter hoop en trots na hul eie stories en herkoms te laat kyk.
Volgens Appel is Yippee-Ki-Yay meer as net ’n liedjie wat mense saam kan sing. Hy beskryf dit as ’n boodskap aan Suid-Afrikaners wat hulle aan hul wortels, families en die waardes waarmee hulle grootgeword het, moet herinner. Die vier kunstenaars bring elk hul eie styl en persoonlikheid na die liedjie, maar volgens Appel word hulle deur dieselfde waardes verbind. Hy sê die samewerking het die boodskap van die liedjie verder versterk. Appel sê hy hoop mense sal hul eie herinneringe in die liedjie herken, van hul kinderdae en familie, tot die plekke en mense wat ’n rol in hul lewens gespeel het. Hy hoop ook dat die liedjie mense sal herinner aan die dinge waarvoor daar steeds rede is om dankbaar te wees.
Ricus Nel beskryf die liedjie as een wat gevoelens van nostalgie by hom wakker maak, terwyl Riaan Benadé hoop dat dit luisteraars nuwe moed sal gee.
’n Musiekvideo word eersdaags vir die enkelsnit vrygestel. Volgens Appel is baie tyd en moeite daaraan bestee om die emosie en boodskap van die liedjie visueel vas te vang.
Druk hier om Yippee-Ki-Yay op alle stroomdienste te kry.





