KWAZULU-NATAL. – ’n Skietvoorval op Vrydag 7 Augustus in Jabu Ngcobo-rylaan, naby Dawncrest, het ’n 43-jarige vrou kritiek beseer het, terwyl haar passasier (21) ook gewond is.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het hul bedryfsentrum om 16:26 verskeie oproepe van lede van die publiek ontvang wat die skietvoorval aangemeld het.
Daar word beweer dat twee mans na ’n wit Volkswagen Golf 8 gestap het waarbinne die vrou gesit het en verskeie skote afgevuur het. Die bestuurder is verskeie kere getref en in ’n kritieke toestand gelaat. Haar passasier het ’n skietwond aan haar dy opgedoen.
Volgens Rusa blyk dit dat die bestuurder die teiken van die gewapende mans was. Albei vroue is gestabiliseer voordat hulle per ambulans na ’n hospitaal geneem is.
Die motief vir die skietvoorval kon nog nie vasgestel word nie.





