COLOMBIë. – Minstens 132 mense is dood en ’n noodtoestand is afgekondig nadat Colombië deur een van die grootste aardbewings in jare getref is.
Die BBC berig dat die dodetal waarskynlik sal styg, met die vrees dat nog mense onder ineengestorte geboue vasgekeer is.
Volgens die land se geologiese diens het die aardbewing 7,4 op die Richter-skaal gemeet en op ’n diepte van 103 km in die provinsie Chocó plaasgevind. Die skudding is oor ’n enorme gebied gevoel en het honderde kilometers oor die weste van Colombië gestrek.
Baie van die sterftes is in die stad Pereira, in Colombië se koffieverbouingsgebied, aangemeld. Omliggende stede en die Valle del Cauca-streek is ook swaar getref.
Soekspanne werk deur die puin van ineengestorte geboue in ’n poging om oorlewendes te vind. Amptenare sê meer as 20 munisipaliteite regoor die land is geraak en honderde geboue is beskadig.
Bronne: BBC, CBS News





