WES-KAAP. – ’n 16-jarige seun wat in verband met verskeie ernstige aanklagte in die Malmesbury-landdroshof verskyn het, is vir geestesevaluering na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal verwys. Die staat het intussen die aantal aanklagte teen die tiener van 11 tot 15 verhoog.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die tiener het Donderdag vir die tweede keer in die hof verskyn nadat hy deur ’n distriksdokter ondersoek is. Die dokter het aanbeveel dat hy vir evaluering verwys word. Die hof het die aanbeveling bekragtig en die tiener is ingevolge artikels 77(1) en 78(2) van die Strafproseswet na Valkenberg verwys. Hy sal intussen in ’n veilige plek aangehou word. Die klagstaat en alle bevele wat deur die hof uitgereik is, is op versoek van die staat verseël. Die NVG sê dié stap is geneem om die regte van die minderjarige beskuldigde, die slagoffers asook sy sibbe en familie te beskerm. Die aansoek volg nadat gedetailleerde besonderhede van verrigtinge wat agter geslote deure plaasgevind het, gepubliseer is. Die voorsittende landdros, mnr. McKenzie, het mense wat die hofsitting bywoon, gewaarsku om nie besonderhede van die verrigtinge of enige dokumente wat by die hof ingedien is, te versprei nie. Die landdros het gewaarsku dat enige persoon wat die hofbevel oortree, tot drie jaar direkte gevangenisstraf gevonnis kan word.
‘n Formele borgaansoek sal op 27 Augustus in die hof aangehoor word. Die aanklagte sluit nou onder meer seksuele voorbereiding van ’n kind, gedwonge seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van ’n kind, die skep en besit van kinderpornografie, die blootstelling van ’n kind aan pornografie, wreedheid teenoor diere en aanklagte wat verband hou met die verspreiding van materiaal wat seksuele geweld en geweld teen kinders uitbeeld, in.
Die seun het verlede Dinsdag op aanklagte, waaronder seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van kinders en die verspreiding en besit van kinderpornografie in die Malmesbury-landdroshof voorgekom. Die saak is tot Donderdag uitgestel vir die mediese uitslag deur ‘n distriksgeneesheer, terwyl die seun in aanhouding bly. Die hofverskyning spruit uit verlede Maandag se inhegtenisneming van die tiener. Die verdagte word volgens die polisie vermoedelik met internasionale ekstremistiese netwerke verbind wat met kinderuitbuiting verband hou. Toestelle waarop eksplisiete beelde en video’s gevind is, is tydens die ondersoek gekonfiskeer.