Brekende Nuus
Misdaad

3 in hof oor moord op e-taxibestuurder – laat vaar borg

GAUTENG. – Dikeledi Tears Mphala (24), Goitsione Machidi (25) en McClaren Mushwana (30) het op aanklagte van moord met voorbedagte rade en roof met verswarende omstandighede, ná die dood van Isaac Satlat (23), ‘n e-taxibestuurder, in die Pretoria-landdroshof verskyn. Al die beskuldigdes het hulle borgtogaansoek in die hof laat vaar.

Volgens NVG-woordvoerder, Lumka Mahanjana, het die beskuldigdes op 11 Februarie ’n e-voertuighuurdiens bestel. Twee van die beskuldigdes het in die voertuig geklim terwyl die ander in ’n aparte motor gevolg het. Die bestuurder is glo gedwing om stil te hou, verwurg en van sy selfoon en voertuig beroof. Die voertuig is later teruggevind en beeldmateriaal van die voorval is op sosiale media versprei.

Die polisie het die drie beskuldigdes tussen 13 en 15 Februarie in hegtenis geneem. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel en sal weer op 23 Februarie in die hof voorkom.