Brekende Nuus
Suid-Afrika

SA-span vorder met herstel van basis op Marion-eiland

Foto's: Minister David Maynier

Die heraktivering van Suid-Afrika se basis op die afgeleë Marion-eiland is aan die gang nadat die vorige span vroeër vanjaar ontruim is. Die eiland is ’n afgeleë Suid-Afrikaanse sub-Antarktiese eiland in die suidelike Indiese Oseaan, ongeveer 1 900 km suidoos van Kaapstad. Volgens David Maynier, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, het die span reeds goeie vordering gemaak.

Dit behoort saam met die Prins Edward-eiland aan Suid-Afrika en word hoofsaaklik vir wetenskaplike navorsing en omgewingsmonitering gebruik. Navorsing op die eiland help wetenskaplikes onder meer om klimaatsverandering, weerpatrone en die oseaan se invloed op Suid-Afrika beter te verstaan.

Op 5 Augustus het die S.A. Agulhas II van Kaapstad na Marion-eiland vertrek en op 9 Augustus by die eiland aangekom, waar ’n aanvanklike inspeksie van die basis gedoen is. Die M83-span van 32 mense sal met die heraktivering en herstelwerk aan die basis begin.Toerusting vir herstelwerk en voorrade om die basis weer aan te vul, word per helikopter vanaf die skip na die eiland vervoer. Die formele oorname van die basis deur die M83-span is vir 25 Augustus geskeduleer, indien daar geen verdere vertragings is nie.

Maynier het gesê navorsing op Marion-eiland is belangrik omdat die Suidelike Oseaan ’n direkte invloed op Suid-Afrika se klimaat het, wat gevolglik ook die land se ekonomie en veiligheid beïnvloed. Hy het beklemtoon dat Suid-Afrika sy posisie as Afrika se leier in navorsing oor die Suidelike Oseaan en Antarktika moet behou.

Druk hier om meer te lees.