NOORDWES. – James Mohajane (41), wat deur die polisie gesoek is in verband met die beweerde moord op drie mense, is in hegtenis geneem. Mohajane is Donderdag omstreeks 09:30 deur die Moeka Vuma-gemeenskap aan die polisie oorhandig.
Polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, sê Mohajane was die onderwerp van ’n intensiewe soektog nadat hy deur die polisie geïdentifiseer is as die beweerde verdagte in die moord op sy meisie, Moipone Lefoka, haar suster, Esther Lefoka en Esther se kêrel, Tshepo Molekwa. Die drie slagoffers is die afgelope naweek by ’n huis in Moeka Vuma, naby Makapanstad, vermoedelik met ’n graaf doodgekap.
Die polisie het Woensdag ’n openbare waarskuwing uitgereik en Mohajane se foto versprei. Volgens die polisie het die gemeenskap binne 12 uur ’n belangrike rol gespeel om hom te oorhandig.
Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende polisiekommissaris, het die gemeenskap, media en sosialemediagebruikers bedank vir hul hulp. “Ons gemeenskappe het weereens getoon dat hulle ’n belangrike vennoot in die stryd teen misdaad is,” het Dimpane gesê.