WES-KAAP. – Luyanda Mahlanza (24) is pas deur die George-streekhof lewenslank gevonnis vir die moord op Zimkhitha Ntshisela (20) op 6 Junie 2023. Dit het omstreeks 12:50 op die kampus van die Nelson Mandela Universiteit in George gebeur. Lt.genl. (Adv.) Thembisile Patekile, die provinsiale kommissaris, het die vonnis verwelkom.
Sers. Christophier Spies, polisiewoordvoerder van die Tuinroete, sê polisiebeamptes verbonde aan George se openbare orde-polisiëring (OOP) is vir die aanval na die Saasveld-kampus ontbied. Die liggaam van die slagoffer is met veelvuldige steekwonde aangetref. Sy is deur paramedici dood verklaar. Haar destydse kêrel is op die toneel in hegtenis geneem en was tot en met die vonnis in aanhouding.
Genl. Patekile het die ondersoekspan en aanklaers vir hul toewyding geprys: “Ons is uiters tevrede met die streng vonnis wat in hierdie saak opgelê is. Ons hoop dat die lewenslange vonnis ’n afskrikmiddel sal wees vir potensiële oortreders van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord. As polisie is ons daartoe verbind om saam met die gemeenskap te werk om hierdie euwel van GBVF uit te roei.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]