Brekende Nuus
Inspirasie

Parkinson se siekte op 37: ‘Ek wou eers sterf; nou weet ek deur God se krag is jy tot alles in staat’

Deur Deonette de Kock vir LiG

Eugene Olivier (nou 37) was eens baie aktief. Hy het die Kaapstad-fietstoer (destyds kortweg bekend as “die Argus”) sewe keer voltooi. Maar so drie jaar gelede het sy lewe radikaal verander toe hy met Parkinson se siekte gediagnoseer is.

Hierdie rekenmeester van die Strand gesels vrymoedig oor sy moeilike stryd teen dié siekte. Hy vertel: “Vroeg in September 2022 het een van my broers by my kom kuier. In daardie tyd het ek agtergekom dat ek moeilik opstaan. Van my ander familielede het ook agtergekom dat ek stadiger funksioneer. My hande het gebewe, meestal aan my linkerkant. Ek het geen beheer daaroor gehad nie. En my bene het begin pyn. Ek het al hoe moeiliker geloop.

LEES OOK: ‘Nie ek óf my medikasie het jou genees nie, dis God,’ hoor vrou met Parkinsons

“Ek was by my huisdokter, wat my na ’n neuroloog verwys het. Die neuroloog het my, ná ’n klompie toetse in Desember 2022, meegedeel dat my simptome ooreenstem met dié van vroeë-Parkinsonsiekte. Dit word gewoonlik by mense jonger as 50 gediagnoseer.”

‘Die Here kan my maar kom haal’

“Dit het ’n tydjie geduur voordat ek die nuus kon verwerk. Ek was geskok, kwaad en hartseer. Dit het my baie emosioneel gemaak, maar ek het probeer positief bly. Ek het gewonder hoekom dit juis met my moes gebeur; ek is dan so jonk. Toe onthou ek dat my ma, wat maar 48 jaar oud was toe sy oorlede is, ook daarmee gediagnoseer is. En dis ’n oorerflike siekte. My ma se broer en my oupa het dit ook gehad.

“Ná my diagnose was ek kwaad vir die Here. Dié hele ding het my geloof negatief beïnvloed. Ek het nie meer aan die Here geglo nie en ook nie meer kerk toe gegaan nie. Ek het ophou bid. Dit help tog nie …

“Ek was baie depressief en het gevoel dat die Here my eerder moet kom haal. Dit was moeilik om besluite te neem of planne vir die toekoms te maak. Ek het geen uitkoms gesien nie. Al was my broers by my – ons is ses, en ’n gedugte span – het ek gereken niemand verstaan my situasie nie.

“Ek wou eintlik net in die bed lê, ek het myself baie jammer gekry. Ek moes ophou fietsry en kon aan geen ander sportsoort deelneem nie. Nie tennis speel nie en selfs nie eens draf nie. 

“Maar ná ’n jaar se wanhoop het daar aanvaarding gekom. Ek het ’n geloofsbesluit geneem nadat ek Jeremia 29:11 gelees het. Dit lui só: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!’ Hierna het ek op ’n manier berus.”

Vinnige agteruitgang

Eugene was wel oor die toekoms bekommerd. Oor hoe lank hy nog sy beroep sou kon beoefen, asook die meegaande finansiële implikasies daarvan. Want sy siekte het dit vir hom ongeveer 50% moeiliker gemaak om sy daaglikse take te verrig. Hy het stadiger gewerk, stadiger beweeg, en boonop erg gebewe.

“My werkgewer was wel baie simpatiek en het my met empatie behandel. Vanaf 2024 kon ek egter nie meer motor bestuur nie. En omdat daar geen ander vervoer vir my beskikbaar was nie, het my broers voorgestel dat ek bedank. Daarop het hulle my by hul finansiële maatskappy aangestel, waar ek deel van die bestuur vorm.

“Hoewel ek nie al die vergaderings kan bywoon nie en soms nie goed voel nie, verskoon hulle my. Ek doen wat ek kan wanneer ek kan.”

Eugene se algemene gesondheid het binne twee jaar erg agteruitgegaan. Die ergste was die spierspasmas, wat tot gevolg gehad het dat hy nie meer sonder hulp kon opstaan nie. En hy het al hoe stadiger geloop. Sy lyf en arms het begin ruk wanneer hy loop. Sy hande het erg gebewe. Soms het hy van die bed afgeval omdat die spiere in sy arms en bene styf was wanneer hy wou opstaan.

In Desember 2024 moes hy hulp kry en hy het ’n manlike versorger aangestel. Dié het gereed gestaan om hom op allerlei maniere te help, ook om sy klere te was, om kos te maak en motor te bestuur.

’n Operasie wat jou lewensgehalte verbeter

In dié stadium het Eugene die maksimum-dosis voorgeskrewe medikasie gebruik. Hy vertel: “Oplaas het ek my neuroloog gevra of ’n diepbreinstimulasie-operasie op my uitgevoer kan word. Sedert 2017 word dié soort operasie met groot sukses in ons land gedoen.

“Ná verskeie toetse en skanderings is ek uiteindelik vir die DBS-operasie gekeur. Dit sou op 16 Februarie 2025 in die Mediclinic Constantiaberg-hospitaal in Kaapstad gebeur.

“Ek was bang. En het selfs begin twyfel of ek die regte besluit geneem het. Maar volgens die dokter was my kans op ’n beter lewensgehalte soveel groter as wat dit sonder ’n operasie was.

LEES DIE VOLLE ARTIKEL OP LIG HIER


Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.