Jaco Strydom gesels met Len Muller oor sy pad met die kerk en musiek

Lees ook :

Deur Jaco Strydom vir Kerkbode

Ek het Len Muller die eerste keer op Richardsbaai ontmoet. Dit was jare gelede. Hy was ’n jeugwerker by ’n NG gemeente op die dorp en het die week die lofprysing gelei. Ons het koffie gedrink en hy het my vertel dat hy deeltyds besig is met sy studies in teologie. “Maar my eintlike droom is om eendag voltyds liedjies te skryf en musiek te maak,” het hy gesê.

Jare later hoor ek Len Muller en Stef Bos se verwerking van “Sarie Marais” op die radio en gooi amper die kar om. Die ou se droom het waar geword, het ek gedink en gewens ek kan hom high-five.

Musiek was nog altyd deel van sy roeping. Hy glo die suiwerste vorm van aanbidding is om dít te doen waarvoor jy gebore is. Vir hom is bediening in die kerk net so belangrik soos bediening buite die kerk. En sy musiek gee hom juis ’n geleentheid hiervoor.

Hy vertel van Retief Burger, die groot mentor in sy lewe.

Daar was ’n oorgangstyd kort na hy uitgebrand het in die jeugbediening. “Ek het ingeskakel by sy gemeente en hy het my geleer wat die verskil tussen ’n huurling en ’n kind is. Vir ’n huurling is alles bloot ’n werk, maar ’n kind was die skottelgoed omdat hy lief is vir sy pa en ma.”

Daar was baie uitdagings op die pad om vandag voltyds in die musiekbedryf te wees en groot lesse om te leer. Vir ’n tyd lank het hy CDs gepak vir ’n platemaatskappy waar hy kon luister na die gesprekke in bemarkingsvergaderings en eerstehands kon sien hoe die administrasie en logistiek in die bedryf werk.

“Jy is dalk ’n kunstenaar, maar jy moet ook ’n besigheidsbrein hê as jy dit wil maak, want daar is verskriklik baie admin,” sê hy.

Behalwe vir liedjies skryf en opneem en optree, besit Len vandag sy eie agentskap. Dit is vir hom lekker om met kunstenaars te werk en hy sien dit as deel van sy roeping.

Hy woon in Vishoek en sit saam met sy seuntjie teen die hang van ’n berg wat uitkyk oor die see terwyl ons gesels. Sy vrou is in die filmbedryf en tans in Frankryk.

Vir ontspanning surf hy graag, en hy hou van stap en lees.

Wat was die grootste draaipunte in jou lewe? vra ek.

“Die eerste draaipunt was my ontmoeting met Jesus. Op skool het iemand by ons saalopening gepraat. Terwyl die ou praat het iets in my hart begin brand. Ek het later nie meer die woorde gehoor nie, dit het amper gevoel of die brandende bos wat Moses gesien het, in my eie hart brand. Ek het daai dag opgestaan en my lewe vir Jesus gegee. Die tweede draaipunt sou wees na skool toe ek uitbrand in die bediening. Ek was jeugwerker vir twee kerke terwyl ek werk vir die VCSV/UCSA in Natalse skole en deeltyds Teologie studeer het. Ek het na ses jaar baie depressed en moedeloos geraak, want ek het geglo musiek is eintlik my roeping. Ek het toe bedank en stad toe getrek om voltyds in die musiekbedryf te begin werk. Die derde draaipunt het onlangs gekom net nadat ek 40 geword het. Ek is besig om te leer hoe belangrik selfaanvaarding is.”

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Jacques de Villiers oor Joshua na die Reën en die ‘vuur wat die slegte wegbrand’

Hy vertel van die mense wat ’n groot rol gespeel het in sy lewe.

“My ma wat my geleer het van compassion, my broer van vergifnis en my suster het my geleer van genade. Dan het ek ’n hele paar mentors: Retief Burger is ’n groot geestelike mentor vir my. Franie Kotze wat my opgelei het as agent en my alles geleer het wat ek weet van besigheid. Stef Bos wat my leer van egtheid en musiek.”

Hy sê hy leer deesdae die grootste lewenslesse by sy vrou en seun.

Len sê hy is steeds baie lief vir die kerk en tree graag by gemeentes op. Daar is baie mooi dinge wat hy raaksien en wat hom inspireer.

Lees ook: Wat sê die Bybel oor die Heilige Gees?

Ek vra wat hom frustreer.

“Iets gaan vir my verlore in die kern van die evangelie wanneer ons probeer om die liefde en genade van Jesus in ’n sisteem of boks probeer inprop. Ek wonder soms of die kerk nie dalk meer eerlik moet wees oor gebrokenheid nie. En dalk meer spasie skep vir vrae en eerlike gesprekke. Uit my eie brokenness leer ek om ander met meer genade en sagtheid te hanteer,” sê hy.

Wat is daar wat min mense van hom weet?

“Ek het in die drie jaar na skool rondgetoer met ’n uitvoerendekunstebediening C-Kruis waar ek geleer het om ballet te doen en ook in ’n hele paar danse opgetree het as deel van jeugweekprogramme wat ons reg oor Suid-Afrika gehou het.”

Hoe lyk sy toekomsplanne?

“Ek voel of ek reeds in my droom leef. Ek doen waarvoor ek lief is, bly langs die see en is die pa van ’n pragtige blondekopseuntjie en man vir ’n vrou wat my baie lief het. Wat meer kan ’n mens voor vra? Ek werk wel hard om ’n verdiepte verhouding met my Skepper te bou sodat nog inspirasie in my musiek, bediening en familie kan invloei.”

Waaraan hou hy vas as dit rof gaan?

“Ek hou vas aan Jesus met als wat ek het. Selfs in my moeilikste tye het Hy my nooit verlaat nie. Die pad wat Jesus my roep om saam met Hom te loop het in my verlede oor en oor bewys dit is die beste manier om te lewe,” sê Len Muller.

Lees meer: https://lenmuller.co.za/

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.


Vriende van Kerkbode

Beskerm gratis, betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld. Jou ondersteuning dra by tot meer konstruktiewe godsdienstige diskoers in die kerk. Wees gerus dat jou bydraes met sorg aangewend word tot die voortsetting van betroubare kerknuus.

Kliek hier en word vandag ’n vriend van Kerkbode.


Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief