GAUTENG. – Die departement van onderwys het bevestig dat ’n brand Woensdagmiddag by Hoërskool Thuto-Lefa in Munsieville, Krugersdorp, uitgebreek het en twee mobiele klaskamers vernietig het. ‘n Verandering aan ‘n skoolrooster het glo ontevredenheid veroorsaak.
Steve Mabona, departementele woordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens beskikbare inligting word daar beweer dat die brand verband hou met leerders se ontevredenheid oor onlangse wysigings aan die skool se rooster. Die aanpassings is gemaak om die akademiese sillabus betyds af te handel en voldoende hersieningstyd voor eksamens te verseker. Vyf leerders, vier in graad 10 en een in graad 9, is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die brand.
LUR Matome Chiloane het die voorval sterk veroordeel: “Om ’n klaskamer aan die brand te steek, is nie protes nie; dit is ’n kriminele daad wat leerders hul reg op onderwys ontneem.”
Die departement sal saam met die skool werk om onderrig met so min as moontlik ontwrigting te hervat. Tydelike infrastruktuur kan moontlik voorsien word terwyl die skade bereken word.