Brekende Nuus
Afrikaans

Leerlinge en ouer by hoërskool in hegtenis geneem

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – ‘n Ouer en vyf leerlinge is Donderdag by Hoërskool Tsakane deur die polisie in hegtenis geneem nadat hulle glo die skool ontwrig het.

Steve Mabona, onderwys-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die inhegtenisnemings volg op ‘n reeks voorvalle waar leerlinge na bewering die skoolgemeenskap geïntimideer het, ander leerlinge en onderwysers bedreig het, klaskamers en gange geblokkeer het en selfs geld en selfone geëis het. Daar word verder beweer dat leerlinge onlangs klippe gegooi, skooldeure beskadig en toilette aan die brand gesteek het. Een van die leerlinge wat in hegtenis geneem is, was vroeër geskors, nadat ‘n meisie met ‘n stoel aangerand is, maar hy het ondanks die skorsing die skool betree. Die ouer van een van die leerlinge word van die aanmoediging van die gedrag beskuldig.

Die GDO veroordeel die geweld en kriminele gedrag wat ’n veilige leeromgewing ondermyn. Psigososiale ondersteuning sal vir slagoffers by die skool beskikbaar wees, terwyl werkerswelstand op onderwysers sal fokus.

Matome Chiloane, LUR, het die polisie vir die inhegtenisnemings geprys. “Ons bly vasbeslote om die reg op onderwys te beskerm en te verseker dat onderrig sonder ontwrigting voortgaan. Elke leerling het reg op kwaliteit onderwys en elke onderwyser reg op ’n veilige werksomgewing. Ons loof die SAPD vir hul optrede en verseker die gemeenskap van Tsakane dat orde herstel sal word.”