NOORD-KAAP. – Bongani Sikepe (41) en Thomas Christopher Lebitsa (21) is deur die Upington-hooggeregshof aan die moord op Cashwin Theo Diteho (14) skuldig bevind en gevonnis. Diteho is dood nadat paraffien oor hom gegooi en hy aan die brand gesteek is, ná dagga van Sikepe vermis geraak het.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê die voorval het op 1 Augustus 2023 plaasgevind nadat Sikepe ontdek het dat dagga wat hy verkoop het, vermis is. Hy en Lebitsa het die seun onder protes van sy ma, uit sy huis geneem en hom na die buitewyke van Upington ontvoer. Daar is die slagoffer aangerand, paraffien oor hom gegooi en hy aan die brand gesteek.
Die tiener het 80% brandwonde opgedoen, waarna Sikepe vir hospitaalpersoneel gesê het hy het probeer selfdood pleeg. Hy het op 2 Augustus 2023 aan sy beserings beswyk. ‘n Nadoodse ondersoek het merke van marteling en verwurging blootgelê.
Jaques Rosenberg, staatsadvokaat, het getuienis aangebied oor die voorafbeplanning van die misdaad en die misbruik van gesag deur Sikepe, wat ’n brandweerman was. Die hof het die erns van die misdaad beklemtoon en bevind dat Sikepe die leier was.
Sikepe is skuldig bevind aan ontvoering en moord met dolus eventualis (wanneer iemand die moontlike gevolge van sy optrede voorsien en steeds die risiko aanvaar) en tot ’n effektiewe 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Lebitsa is skuldig bevind aan moord met dolus eventualis en tot 10 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. ’n Derde beskuldigde, Isaac Vywers (21), is onskuldig bevind nadat die hof bevind het dat hy deur Sikepe gedwing en geviktimiseer is. Senokoatsane sê die vonnisse stuur ’n duidelike boodskap dat gewelddadige misdade, veral dié teen kinders, met die strengste gevolge gestraf sal word.