KWAZULU-NATAL. – ’n Man (20) wat vir moord deur die polisie gesoek was, is Donderdagmiddag in ’n skietgeveg met die polisie in Cato Manor doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die oorledene is gesoek vir die moord op ‘n man wat op 12 Oktober op die brug in Siyandapad by Wiggins doodgeskiet is. Inligting het die polisie na ‘n huis in Donkerstraat, Wiggins, gelei, waar die verdagte vermoedelik geskuil het. Toe beamptes die perseel wou binnegaan, het die verdagte op hulle geskiet. Die polisie het teruggevuur, wat tot ’n skietgeveg gelei het. Die verdagte is noodlottig getref. ‘n Vuurwapen en ammunisie is in sy besit aangetref.
Netshiunda sê buiten die moord in Wiggins, was die oorledene ook gesoek vir verskeie huis- en sakerooftogte wat in die Cato Manor-gebied gepleeg is. Die oorledene was voorheen in 2024 vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en in 2023 vir poging tot moord in aanhouding. Die oorledene is ook vroeër skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Geen polisiebeampte is tydens die skietvoorval beseer nie.