Brekende Nuus
Afrikaans

Drie mans in hegtenis ná 26 bokke in Quantum gevind is

Foto: Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoerbestuur
Foto: Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoerbestuur

NOORDWES. – Drie mans is Donderdagoggend op die N14 naby Coligny in hegtenis geneem nadat 26 bokke in ’n silwer Quantum-bussie met Gauteng-nommerplate gevind is.

Volgens ‘n sosialemediaplasing van die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur is die bussie deur verkeers- en polisielede gestop, waarna die bokke ontdek is. Die verdagtes kon glo nie verduidelik waar die diere vandaan kom nie en is op die toneel in hegtenis geneem.

Wessels Morweng, die LUR vir dié departement het die beamptes vir hul vinnige optrede geprys.”Ons is moeg vir veediefstal. Ons gemeenskappe ly onder hierdie misdaad en as regering sal ons nie ledig toekyk terwyl misdadigers die provinsie ontwrig nie. Ons sal hulle lewens moeilik maak.”

Volgens die departement is veediefstal een van die prioriteite in die stryd teen misdaad in die provinsie.