Brekende Nuus
Afrikaans

Werk saam met privaat laboratoriums – Action Society oor forensiese ineenstorting

Foto: Ter illustrasie
Foto: Ter illustrasie

Action Society sê die krisis by die SAPD se ballistiese afdeling, wat hierdie week tydens getuienis voor die Madlanga-kommissie van ondersoek blootgelê is, bevestig die dringende noodsaaklikheid van forensiese dienste om met private laboratoriums saam te werk.

Brig. Mishak Mkhabela, hoof van die ballistiese afdeling by die SAPD se Forensiese Wetenskaplike Laboratorium in Silverton, Pretoria, het op 27 Oktober voor die kommissie getuig dat die eenheid lamgelê is deur personeeltekorte en toenemende vertragings wat vuurwapenondersoeke landwyd belemmer. Van die 41 846 uitstaande sake is 21 732 van 2025 alleen, wat daartoe lei dat sake van hofrolle verwyder word en bewysstukke koud raak.

Volgens Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society, dien die agterstand van meer as 41 000 onvoltooide ballistiese sake as verdere bewys dat die staatsbeheerde forensiese stelsel nie meer in staat is om geregtigheid te lewer nie. “Die agterstand in die SAPD se ballistiese afdeling is ’n nasionale noodtoestand, maar dit is ook ’n simptoom van iets diepers,” het Du Preez gesê. “Die gesentraliseerde forensiese model stort in duie. Tensy Suid-Afrika gekwalifiseerde private forensiese laboratoriums toelaat om onder streng toesig te help, sal die wiele van geregtigheid bly vassit.”

Action Society het gewaarsku dat die ballistiese agterstand deel vorm van ’n veel groter forensiese verval, met DNS- en toksikologie-agterstande wat selfs erger is. “Honderdduisende DNS-monsters bly onverwerk, wat beteken dat verkragting- en moordondersoeke regoor die land tot stilstand kom,” het Du Preez gesê. “Beide die DNS- en ballistiese krisisse spruit uit dieselfde probleem: ’n gesentraliseerde en wanbestuurde stelsel wat kapasiteit, geloofwaardigheid en openbare vertroue verloor het.”

Die organisasie sê dat openbare private vennootskappe en desentralisering die enigste lewensvatbare maniere is om die agterstande uit te wis, aanspreeklikheid te herstel en kapasiteit binne die forensiese omgewing te herbou.

Druk hier om meer te lees.