Brekende Nuus
Afrikaans

Soektog na 13-jarige by Hole-in-the-Wall duur voort

Foto: NSRI
Foto: NSRI

OOS-KAAP. – ’n Grootskaalse soektog duur voort na ’n 13-jarige seun van Mthatha wat Dinsdag in die branders by Hole-in-the-Wall vermis geraak het.

Luidens ‘n verklaring deur Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, het die NSRI-Mdumbi-stasie reddingspanne kort ná 11:00 geaktiveer nadat rapportering van ‘n verdrinking ontvang is. Die SAPD en die NSRI se JetRIB-reddingsvaartuig is onmiddellik na die toneel en het met ‘n soektog begin.

Ten spyte van ’n uitgebreide see- en kuslynsoektog is daar tot dusver geen teken van die tiener gevind nie. Die soektog word deur polisieduikers, ‘n honde-eenheid en waar nodig ’n polisiehelikopter, met ondersteuning van Oos-Kaapse nooddienste en die NSRI, behartig.

Johann Stadler, stasiebevelvoerder van NSRI-Mdumbi, het gesê reddingspanne bly alles in hul vermoë doen om die tiener op te spoor. Die NSRI het ook hul meegevoel betuig aan die familie en vriende van die vermiste seun in hierdie moeilike tyd.