WES-KAAP. – ‘n Nigeriese burger wat homself as ene “Raymond Butler” voorgedoen het, is Dinsdag vir beweerde bedrog gedurende ‘n “aanlyn romanse,” waartydens hy ‘n Kanadese vrou glo in 2022 uit R24 m. bedrieg het, in hegtenis geneem.
AO Joseph Swartbooi sê die verdagte is tydens ‘n operasie deur lede verbonde aan die kommersiële misdaadeenheid vasgetrek.
Die Kanadese klaagster het die romanse-verneukspul gedurende 2022 aangemeld. Sy het “Butler” na bewering aanlyn op ‘n bekende sosialemediaplatform ontmoet. Hulle het eers op die platform gekommunikeer, maar later privaat met mekaar gesels. Gedurende die digitale verhouding het “Butler” haar oortuig om R24 m. in sy oorsese projek te belê.
Die Nigeriër is op ‘n perseel in Charing-keerweg in Parklands, Table View deur ‘n ondersoekbeampte in hegtenis geneem. Die verdagte, wat in aanhoudig is, sal vir bedrog aangekla word en sal dan na verwagting in die Kaapstad-landdroshof verskyn.
Swartbooi waarsku vroue in die besonder om in hul pasoppens te wees vir aanlyn misdadigers wat hulle teiken en van hulle geld steel.
Lees Swartbooi se wenke vir vroue om voornemende aanlyn misdadigers te identifiseer hier onder:
– Hulle lyk en klink baie besorg en verantwoordelik
– Hulle kom altyd met ‘n besigheidsvoorstel vorendag
– Hulle wil nie hê hul foto’s moet geneem word nie
– Hulle wil nie met jou in ‘n openbare plek ontmoet nie
– Hulle steek altyd hul identifikasiedokumente weg
– Hulle stel jou nie aan hul familielede voor nie
– Hulle wil alles in ‘n verhouding besit
– Hulle neem jou nie na hul regte huis nie
– Hulle kom altyd met teenstrydige stories