Brekende Nuus
Afrikaans

‘Huisrower’ deur polisie doodgeskiet

Die polisie in Gauteng het Woensdagaand 'n verdagte wat deel van 'n groep "huisrowers" was tydens 'n oor-en-weer-skietery noodlottig gewond.

Foto: SAPD
Foto: SAPD

GAUTENG. – ‘n Familie van Oakdene is Woensdag glo deur vyf verdagtes in hulle huis van besittings en twee voertuie beroof, waarna die polisie tydens ‘n oor-en-weer-skietery een van die verdagtes noodlottig gewond het.

Kol. Mavela Masondo sê polisielede van die hoofwegpatrollie en blitspatrollie het vinnig op die huisroof reageer.

‘n Wenk is ontvang van die verdagtes wat met die geroofde voertuie onderweg was na Soweto. Die voertuie is in Chris Hanistraat opgemerk, waarna ‘n hoëspoedjaagtog ontstaan het. Die bestuurder van die Audi A3 het uit die voertuig gespring en op die polisie geskiet,t waarna die polisie teruggeskiet en die verdagte noodlottig gewond het.

Die verdagte se gebruikte vuurwapen is op die toneel gevind, asook beide die geroofde voertuie en items wat tydens die huisroof gesteel is.

Masondo sê die polisie soek na die verdagtes wat nog vry is.