KROONSTAD, VRYSTAAT. – ’n Duitse brief wat aan ’n heliumballon vasgebind is, is op 3 Februarie 2024 naby die Kroonstad-lughawe gevind.
Rika Denner vertel sy en haar man, Johan, het ’n vreemde voorwerp op ’n afstand in die lug gesien. “Die weerkaatsing van die son op die outjie het die voorwerp moeilik herkenbaar gemaak, maar ons het dit dopgehou en is in die veld agter dit aan.”
Hulle was by toe die ballon, wat nog helium in gehad het, ’n perfekte landing gemaak het. Volgens Denner kan ’n heliumballon hoog in die lug opgaan en ver deur wind gedruk word.
“Die Vrystaat het nie eintlik Duitse gemeenskappe nie. Ek weet Winterton, Vryheid, Namibië en Johannesburg het onder andere Duitse gemeenskappe,” vertel Denner. Die brief wat gekry is, is moontlik net een deel, want dit is volgens haar nie volledig nie.
Een van haar vriendinne se mans wat ’n Duitser is, het die brief losweg vertaal:
“Wie my wense van nou af ontvang, asseblief, laat dit asseblief waar word.
Ek wil gelukkig wees, regtig gelukkig.
Ek wil my lewe leef soos ek wil.
Ek wil hê die mense vir wie ek die liefste is, moet vervuld, gesond en gelukkig wees.
En bowenal wil ek hê my verhouding moet my gelukkig maak tot aan die einde van my lewe.
Ek is lief vir hom en ek weet hy is ook lief vir my.
Aan al my geliefdes in die hemel:
Nike, ek mis jou meer as ander en my hart is so seer.
Jy het my lewe verwoes en ek sal vir altyd skuldig voel dat ek joune nie kon red nie. Ek het jou lief.
Amber, jy was die beste ding wat ooit met my kon gebeur het en dit is te danke aan jou dat my hart steeds klop. Jy het my genees, jou dood het my gebreek. Ek het jou lief.
Magli, ek hoop jy kuier gesellig daar.
En Lenny, jy leef altyd voort in my hart. Die wêreld was minder OA met jou”
Die brief:

Enigiemand met meer inligting oor die brief, kan vir Rika Denner by [email protected] of 072 630 5545 kontak.