Dirk van der Westhuizen, gewilde sanger, het gister ‘n kankerpasiënt in ‘n hospitaal in Bloemfontein met ‘n besoek verras.
Van der Westhuizen het gehoor Carien se wens was om hom te ontmoet. Hy het tydens haar tweede chemoterapiesessie gaan inloer.
Carien het gesê dit was die beste dag van haar lewe.
Die kuier was belaai met emosie en Van der Westhuizen het vir Carien gesê sy dink dalk die besoek beteken vir haar die wêreld, maar dit beteken nog meer vir hom om te weet daar is iemand wat dink hy is so belangrik en wat hom liefhet.
“Ek dink ons almal strewe na liefde en ek hoop jy kan weet vir my beteken dit eintlik nog meer.”
Daar was ook ‘n komiese oomblik oor Van der Westhuizen se geskeurde denimbroek.
Cupcakes of Hope wat Carien se briefie met haar wens ontvang het, het nadat hulle gehoor het Van der Westhuizen is in Welkom, vinnig die reëlings getref om die ontmoeting te bewaarheid.
“Vanoggend gehoor hierdie brawe engelmens – Carien – wat fase 4-kanker het se wens was om my te ontmoet ![]()
Niks in hierdie lewe is per toeval nie, want ek was juis op pad van Welkom na Bloemfontein op toer – en Carien is in die hospitaal in Bloemfontein. Dankie Jesus vir die voorreg om iemand in so ‘n bitter moeilike situasie se dag te kon ophelder! Alle eer aan U!”