Brekende Nuus
Afrikaans

Duitser op klag van mensehandel in hof na 2 vroue op lughawe gered is

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Joachim Will (56), ‘n Duitse burger, het Vrydag op aanklagte van mensehandel en bedrog in die Kempton Park-landdroshof verskyn. Twee vroue is glo op 19 April op die OR Tambo-lughawe van hom gered.

Die hofsaak is vir sy formele borgaansoek tot 10 Mei uitgestel.

Kol. Philani Nkwalase sê Will is Dinsdag in hegtenis geneem. Hy het op 19 April met twee vroue, Madagaskar-burgers, ‘n vlug na Kroasië probeer neem. Die vroue het vervalste Italiaanse paspoorte in hulle besit gehad.

‘n Voorlopige ondersoek het bevind Will het glo die twee vroue op ‘n afspraakwebwerf met ‘n werk in Kroasië gelok . Hy het glo die vroue, 32 en 29 jaar oud, se vlugte na Suid-Afrika gereël, asook die paspoorte sowel as die vlugte na Kroasië.

Die inhegtenisneming is gemaak deur ‘n span wat uit die Wes-Rand Valke, Interpol, misdaadintelligensie en Gautengse provinsiale grenspolisie bestaan.