Lené Kloppers (13) van die Oos-Rand is met weergawes van ou bekende liedjies wat sy en haar pa, Willie Kloppers, afstof, besig om sosiale media aan die brand te sing.
Die treffer, Master Jack, op die Lekkerkry Musiek Facebook-blad is sedert dit op 27 November 2023 geplaas is, al amper ‘n allemintige 6 000 keer gedeel. Dit het haar ‘n toekenning van Melomaan, wat plaaslike talent en die kunste bevorder, as die sosialemediakunstenaar van die jaar besorg.
Die tipiese tiener met ‘n pet op die kop, wat in ‘n tuisstudio sing en kort-kort vir die kamera glimlag, word eers in November 14 jaar oud.
Pa Willie vertel Master Jack het toevallig gebeur en was ‘n video-opname wat net vir die Facebook-blad bedoel was. Die weergawe is egter so gewild dat sy deur radiostasies vir onderhoude genooi is.
“Ons was baie verbaas en dankbaar.”
Lené kies self die liedjies wat sy sing. Willie maak self haar backtracks en neem haar dan in die tuisstudio op.
“Haar weergawe van Brand New Key en Blue Eyes Crying In The Rain doen ook baie goed en mense geniet die nuwe weergawe van ou liedjies wat sy nuwe lewe gee met ‘n moderne ritme en haar suiwer, sterk stem.”
Willie vertel Lené het van kleins af ‘n groot liefde vir musiek gehad en saam met hom in die huis gesing. Toe sy in gr. R was, het sy vir die eerste keer voor mense by ‘n Moedersdagbyeenkoms by die skool opgetree.
Lené se veelsydigheid ken geen perke nie. Sy was onderhoofdogter van Laerskool Jan van Riebeeck en is tans in Hoërskool Hugenote. As kranige hokkiespeler is sy kaptein van haar o.14-hokkiespan. Dit eindig ook nie hier nie. Pa Willie vertel sy is ‘n puik redenaar wat al ‘n paar keer na die nasionale ATKV-finaal deurgedring het.
“Akademie is vir haar baie belangrik en sy is getrou wat haar huiswerk en leerwerk aanbetref, en dit werp ook goeie vrugte af.”
As ouers moedig hulle vir hulle drie dogters ‘n gebalanseerde leefstyl aan. Lené is die oudste, maar vir die twee jonger susters is die mikrofoon en verhoog ook nie onbekend nie. Willie verduidelik hulle is net so lief vir musiek en sang, maar hulle stemme is nog bietjie jonk. Hulle word soms as agtergrondstemme gebruik. Sodra jy begin rondsoek, kom jy wel op ‘n paar video-opnames af waarop al drie sussies saam sing.
En hoe lyk die toekoms vir hierdie opkomende singende sensasie?
“Sy tree tans op by talle feeste, markte en eetplekkies. Ek plaas so af en toe iets van haar op ons Facebook-groep en TikTok.”
En nee sê pa Willie sy is nog te jonk om toegang tot Facebook en ander sosiale platforms onder haar eie naam te hê. Maar hy sê dit sal wel in die toekoms gebeur.
“Maar sy lees al die boodskappe en is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat sy kry.”
Nuusflits het ‘n stemboodskap van Lené ontvang waarin sy sê sy sing omdat dit vir haar lekker is.
“Dit is iets wat ek en Pappa saam doen. Ek werk hard om my droom te bereik. Ek wil graag hê almal moet eendag weet wie ek is. En as daar iets is wat ek vir ander mense kan sê, is dit iets wat my hokkie-coach al vir my gesê het. Sy sê: “Diamonds are formed under pressure,” so as die druk hoog is, moet mens net aanhou en dan sal jy jou grootste drome bereik.”
Die band tussen pa en dogter, met identiese glimlagte, is onmiskenbaar. Pa Willie bespeel self verskeie musiekinstrumente. Kyk hier onder na waar Lené en Willie saam sing en dan haar weergawe van Blue Eyes Crying In The Rain.