LIMPOPO. – Siphiwe Sigasa (31) en Simphiwe Dhladhla (32) het Dinsdag op aanklag van die besit van gesteelde voertuie in die Mankweng-landdroshof verskyn. Beide bly in aanhouding totdat die saak weer op 7 Julie vir formele borgaansoek hervat word.
Kol. Malesela Ledwaba sê die twee is tydens ‘n teen-smokkeloperasie wat tussen Sondag en Maandag gehou is, in hegtenis geneem. Lede van die provinsiale teen-smokkel-taakspan en blitspatrollie het ‘n wenk van twee voertuie wat glo deur Beitbrug-grenspos na Zimbabwe gesmokkel gaan word, ontvang.
Die inligting is opgevolg en ‘n grys 2.8 Toyota Fortuner en ‘n wit dubbelkajuit Toyota Hilux Gd6 is op die R71 in die rigting van Polokwane in die Mankweng-polisiëringsarea opgemerk. Die voertuie is voorgekeer en deursoek. Geen dokumente vir die voertuie kon deur die bestuurders getoon word nie en beide het vals registrasieplate en vals lisensieskyfies gehad. Beide verdagtes is in hegtenis geneem.
Voorlopige ondersoek dui aan die Fortuner, ter waarde van R900 000 is Saterdag in Muldersdrift, Gauteng, as gesteel aangemeld. Die Hilux-bakkie, ter waarde van R700 000, is ook Saterdag in Brooklyn, Pretoria, as gesteel aangemeld.
Lt.genl. Thembi Hadebe het die inghegtenisneming van die verdagtes en die voertuie wat teruggevind is, geprys.
Die ondersoek duur voort.