Brekende Nuus
Misdaad

Medicare 24-korrupsiesaak uitgestel vir Matlala se byvoeging

Foto: Matjhiding News Updates
Foto: Matjhiding News Updates

GAUTENG. – Die korrupsiesaak teen 14 beskuldigdes wat met die Medicare 24 Tshwane-distrikskontrak verbind word, is in die Pretoria-landdroshof tot 29 September uitgestel. Die saak word uitgestel om dit na die streekhof oor te dra, waar die beskuldigdes saam met Vusi “Cat” Matlala verhoor sal word.

Henry Mamothame, NVG-woordvoerder van die NVG se direktoraat vir korrupsie-ondersoeke (IDAC), sê die staat het bevestig dat die inhoud van die dossier aan al die beskuldigdes bekend gemaak is. Matlala en sy twee maatskappye se saak is voorheen geskei. Hy het daarna in die spesiale handelsmisdaadhof van ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat onttrek en sal na verwagting op 11 September weer in die hof verskyn. Sy saak sal dan na die Pretoria-streekhof terugverwys word om hom en sy twee maatskappye saam met die ander 14 beskuldigdes te voeg.

Die beskuldigdes staan tereg op korrupsie-aanklagte oor die beweerde onreëlmatige toekenning van ’n kontrak van sowat R228 miljoen aan Medicare 24 Tshwane-distrik, ’n maatskappy wat deur Matlala besit word.