GAUTENG. – Alfred Sello “Long” Magoa (44), wat glo met 34 ernstige sake verbind word, is deur die Gauteng-polisie in hegtenis geneem.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Tintswalo Sibeko, is Magoa Saterdag ná ’n intensiewe ondersoek in die Mabopane-gebied in hegtenis geneem. Sibeko sê Magoa word met verskeie verkragtingsake verbind wat tussen 2008 en 2016 in onder meer Klipgat, Ga-Rankuwa, Loate, Mabopane en die Moretele-gebied aangemeld is. Daar word verder beweer dat Magoa in Desember 2019 uit wettige polisiebewaring ontsnap het en sedertdien deur ondersoekbeamptes gesoek is. Die polisie sê sy inhegtenisneming is ’n belangrike deurbraak in pogings om verdagtes wat met ernstige en gewelddadige misdade verbind word, aan te keer, veral misdade teen vroue en kinders.
Magoa sal na verwagting Maandag in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn.