GAUTENG. – ’n Pa in sy 50’s en sy vierjarige seun het vroeg Saterdagoggend in ’n huisbrand in Eden Glen, Edenvale, gesterf.
Volgens ’n sosialemediaplasing deur Yusuf Abramjee het brandbestryders hulle omstreeks 03:30 na ’n dubbelverdiepinghuis in Collinsstraat gehaas nadat die boonste verdieping volledig in vlamme gehul is. Die dak het tydens die brand ineengestort, terwyl vier slaapkamers, ’n instapkas en ’n badkamer vernietig is. Brandbestryders kon die brand onder beheer bring en verhoed dat dit na die res van die huis versprei. Die liggame van die pa en sy seun is ná die brand in een van die kamers gevind. Die egpaar se negejarige dogter het ongedeerd ontsnap en is deur bure van die toneel weggeneem.
Die oorsaak van die brand word ondersoek.
Bronne: Yusuf Ambramjee, The Voice of TembisaFM, Eyewitness News