Lauren Dickason, die Suid-Afrikaanse vrou wat daarvan beskuldig word dat sy op 16 September 2021 haar drie minderjarige dogters in hul huis in Timaru in Nieu-Seeland doodgemaak het, se verhoor sal op 17 Julie 2023 in die Hooggeregshof begin.
New Zealand Herald sê hul was nie Donderdag toegelaat om foto’s van Dickason te neem nie. Dit was die eerste keer vandat sy twee dae na die dood van die kinders in die hof verskyn het, dat sy self weer fisies in die hof teenwoordig was. Sy het voorheen onskuldig op al drie die moorde gepleit.
Dit is bevestig dat sy ‘n verweer van waansin sal aanbied, dat sy tydens die moorde kranksinnig was en nie krimineel skuldig kan wees nie, dus ontoerekeningsvatbaar. Die Crown-deskundige sal volgens die NZ Herald egter ‘n opponerende siening aanbied.
Dickason word daarvan beskuldig dat sy haar dogters, Liané (6) en tweeling Maya en Karla (2) doodgemaak het. Graham Dickason, wat by ‘n ete met kollegas was, het op haar en die kinders afgekom. Sy is in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal gehaas en nie lank daarna nie in hegtenis geneem. Sy het op al drie moorde onskuldig gepleit.
Die familie het slegs twee weke vantevore uit Pretoria na Nieu-Seeland geëmigreer.
Dickason was in ‘n psigiatriese eenheid in Hillmorton-hospitaal in aanhouding.
Graham Dickason, ‘n ortopediese chirurg van beroep, het sy vrou vergewe en het sedertdien na Suid-Afrika teruggekeer.
Bronne: New Zealand Herald, Times Live