Brekende Nuus
Afrikaans

Kyk: Transitoroof – 1 sekuriteitsbeampte dood, 2 beseer

'n Sekuriteitsbeampte is dood en nog twee beseer tydens 'n transitorooftog vanoggend in KZN.

Transitorooftog
Foto: ALS Paramedics

KWAZULU-NATAL. – ‘n Sekuriteitsbeampte is noodlottig beseer, terwyl nog een kritiek is en nog een matige beserings opgedoen het tydens ‘n transitorooftog net na 09:00 vanoggend op die M35 naby Folweni.

ALS Paramedics sê met aankoms op die toneel was die polisie reeds op die afgebakende toneel. ‘n Kontantwa het langs ‘n huis op sy kant gelê.

Met assessering van die toneel is ‘n noodlottig gewonde sekuriteitsbeampte gevind. Hy is dood verklaar.

‘n Kritiek beseerde beampte is deur gevorderde lewensondersteunende paramedici gestabiliseer. Hy is met ‘n Netcare 911-helikopter na ‘n vlak 1 trauma-eenheid gevlieg. Nog ‘n sekuriteitsbeampte met matige beserings is op die toneel behandel waarna hy per ambulans na ‘n hospitaal vervoer is.

Die pad was vir polisie-ondersoek in beide rigtings gesluit.

Volgens KZN VIP Protection Services is een verdagte deur die polisie vasgetrek.

Bronne: ALS Paramedics en KZN VIP Protection Services