Brekende Nuus
Afrikaans

Kleinhoewe-eienaar skiet glo op besoekende vriende – twee sterf

'n Kleinhoewe-eienaar het glo twee besoekende vriende geskiet. Hulle het agterna in 'n hospitaal gesterf.

Kleinhoewe-eienaar skiet glo twee besoekende vriende wat sterf
Foto: Ter illustrasie Canva

NOORD-KAAP. – Jacob Dawid Malan Claassens (59) is in aanhouding nadat hy glo Maandagoggend omstreeks 04:30 twee besoekers op sy kleinhoewe in Vioolsdrift geskiet het. Die twee slagoffers, onderskeidelik 54 en 56 jaar oud, het intussen Woensdagoggend in ‘n hospitaal op Upington aan hul beserings beswyk.

Kol. Cherelle Ehlers sê na bewering het vier mans, vermoedelik van Kaapstad, hul vriend op die kleinhoewe gaan besoek.

Gedurende die oggendure het bure skote gehoor en ondersoek by die kleinhoewe ingestel. Met aankoms van die bure het Claassens na bewering erken hy het die twee mans geskiet en wou homself aan die polisie oorhandig.

Die polisie is ontbied, waarna die twee aanvanklik beseerde mans per ambulans na ‘n hospitaal vervoer is. Claassens is deur die polisie in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die Springbok-landdroshof verskyn. Die twee mans het Woensdag beswyk. Claassens sal vir eers tot Dinsdag 7 November in aanhouding bly wanneer sy borgaansoek aangehoor sal word.

Omstandighede van die insident word deur die Vioolsdrift-polisie ondersoek.