Brekende Nuus
Afrikaans

Halfnaakte liggaam van ‘ontvoerde’ man in duvet langs pad gevind

'n Man wat as vermoedelik ontvoer aangemeld is se liggaam is met 'n oopgesnyde nek in 'n ander provinsie gevind.

Wayne Henderson
Foto: Ter illustrasie Canva

MPUMALANGA. – Wayne Henderson (42) se halfnaakte liggaam, met ‘n duvet bedek, is Dinsdag omstreeks 03:00 deur ‘n plaaswerker op die R50-pad ongeveer 5 km van Standerton ontdek. Henderson se liggaam is nie ver van ‘n voertuig gevind nie.

Brig. Selvy Mohlala sê daar is vermoed die oorledene is in die Hercules-area in Pretoria, Gauteng ontvoer. Sy pa het hom en ‘n grys Renault Sandero as vermis aangemeld.

Met ondersoek is bloedvlekke in die voertuig se kattebak gevind.

Henderson se nek was oopgesny en hy het ‘n steekwond aan sy kop gehad. Hy is positief deur ‘n familielid uitgeken.

Beamptes van Standerton- en Hercules-polisiestasies ondersoek die omstandighede wat tot sy dood gelei het en om die skuldiges wat vir sy dood verantwoordelik te laat boet.

Enigiemand met inligting kan kapt. Sean Bouwer by 079 499 6312 bel.