Brekende Nuus
Afrikaans

TLU SA-president skryf ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa

Hy lig twee pertinente pligte wat president Ramaphosa teenoor SA moet nakom, uit.

Mnr. Henry Geldenhuys TLA SA President
Fotokrediet Mediaverklaring TLU SA

Henry Geldenhuys, Transvaalse Landbou-unie SA se president, het vandag ‘n ope brief wat hy sterk bewoord het aan die president van Suid-Afrika geskryf.

In die brief het hy president Ramaphosa aan sy verantwoordelikhede wat hy moet nakom teenoor die burgers van Suid-Afrika herinner.

Hy lig pertinent die volgende twee verantwoordelikhede uit:

  1. Om inwoners se veiligheid te verseker
  2. Om ‘n beleidsomgewing te skep waarby die privaat sektor betrokke wil raak.

Die fokus hierdie tyd van die jaar is veiligheid tydens die Kersseisoen wat voorlê en ook die toename in aanvalle op plase, die moorde wat op plase plaasvind en die wreedheid waarmee hierdie gevalle plaasvind.

“Met 70 moorde ’n dag word daar beslis nie na inwoners se veiligheid gekyk nie. Die regering is te sag om misdaad en misdadigers en daarom is dit buite beheer,” sê mnr. Geldenhuys.

“Ek het nie genoeg hande om te tel hoeveel keer daar al oor die implementering van die Landelike Veiligheidstrategie sedert 2018 gepraat is nie. Suid-Afrikaners het die reg tot vryheid van geweld, maar ons beweeg al hoe verder weg hiervan en die realiteit is dat ’n groot deel van die bevolking in vrees leef. Die SAPD voldoen ook nie aan sy roeping om ons burgers te beskerm nie. Die realiteit is dat veral boere verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid, dié van hul families en werkers moet aanvaar.”

Die organisasie wil die leiers van die land tot ernstige verantwoording roep.

“Ons kan nie net langer sit en toekyk nie. En ons land se president kan dit ook nie meer doen nie. Hy mag nie langer net toekyk nie. Suid-Afrika en sy inwoners bloei. Met die brief eis ek van Ramaphosa om die land en sy inwoners eerste te stel. Ons eis dit in terme van wat die land se Grondwet sy inwoners belowe, en ons eis dat hy vir ’n slag ophou dubbelpraat vir sy gehore en daadwerklik sy plig doen soos wat die Grondwet ook van die staatshoof vereis.”

Bron: TLU SA Facebook-blad – Mediaverklaring

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.