Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek die Airlink-verbyvlug voor die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op 29 Augustus by die DHL Kaapstad-stadion.
Sisa Majola, Burgerlugvaart-woordvoerder, sê Airlink het drie aansoeke vir vliegvertonings by die rugbywedstryde ingedien. Die betrokke vliegvertoning was die tweede en is vooraf goedgekeur nadat die vereiste dokumentasie, simulatoroefening en veiligheidsinligtingsessie voltooi is. Ná mediaberigte oor die naweek het die Burgerlugvaartowerheid ’n nakomingsondersoek begin, met Airlink geskakel en vlugdata en verdere inligting bekom. Die ontleding is steeds aan die gang en bykomende inligting is van die operateur versoek. ’n Volledige verslag met aanbevelings sal aan Airlink verskaf word nadat die beoordeling afgehandel is.
Airlink het die owerheid op 1 September ook in kennis gestel dat hy sy aansoek vir ’n derde vliegvertoning, wat vir dié naweek beplan was, terugtrek. Die Burgerlugvaartowerheid sê lugvaartveiligheid bly ’n prioriteit en dat die gebeure deeglik ondersoek moet word om vas te stel of enige veiligheidskwessies verdere optrede vereis.