GAUTENG. – ’n Vermiste slagoffer van ’n skerpgemaakte ysterpen-voorval (spiking) op die N4-snelweg in Pretoria is op 1 September lewend deur ’n veiligheidsmaatskappy se hommeltuig opgespoor. Hy was ongeveer een kilometer van die pad af die bosse in gesleep.
ProShield Security sê in ‘n sosialemediaplasing op die aand van die voorval het dié diens hulp verleen, nadat daar gerapporteer was dat minstens ses gewapende verdagtes ’n slagoffer die omliggende bosse ingesleep het. Een slagoffer was volgens ProShield veilig. ‘n Lugsoektog in die omliggende veld en bosse is deur die ProShield-hommeltuigspan saam met die polisie begin. Die vermiste slagoffer is deur die hommeltuig opgespoor, waarna die vlieënier die polisiebeamptes op die grond na sy presiese ligging gelei het. Die slagoffer is lewend en ongedeerd teruggevind.
Polisiebeamptes van Sinoville-polisie, hoofwegpatrolle, honde-eenhede van Tshwane en Soshanguve, PsoShield Security, Prosec Security en Tracker SA was by die operasie betrokke. Volgens ProShield is die voorval deel van ’n kommerwekkende toename in spiking-aanvalle op die N1- en N4-snelweë, waar motoriste geteiken en daarna beroof of aan ander geweldsmisdade onderwerp word. ProShield sê hy is saam met die polisie en ander veiligheidsdienste besig om ’n gekoördineerde operasionele reaksie op die aanvalle te bespreek.