Brekende Nuus
Misdaad

SA-meisies veilig terug ná mensehandel na Malawi

Foto: Departement van Maatskaplike Ontwikkeling

Twee meisies van nege en 15 jaar oud is veilig na Suid-Afrika teruggebring, nadat hulle volgens die departement van maatskaplike ontwikkeling as slagoffers van mensehandel geïdentifiseer is.

Volgens Sandy Godlwana, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, sal die meisies en hul gesin ondersteuning ontvang om hul veilige hereniging en herstel te verseker. Die meisies was deel van ’n gesin wat in Oktober 2024 volgens inligting aan wetstoepassingsowerhede met beloftes van ’n beter lewe na Malawi gelok is. Hul paspoorte is glo afgeneem, hul bewegings beperk, hulle is aan mishandeling blootgestel en het onvoldoende kos gekry. Die meisies is op 9 Julie 2026 deur Malawiese owerhede gered en in ’n plek van veiligheid geplaas. Ná samewerking tussen Suid-Afrikaanse en Malawiese owerhede is hulle Donderdag na Suid-Afrika gerepatrieer. Minister Dina Pule het hulle by OR Tambo Internasionale Lughawe ontvang en gesê mensehandel is ’n werklikheid wat oor grense heen plaasvind.

Die meisies sal tydelik by ’n Khuseleka-sentrum gehuisves word, waar hulle psigososiale ondersteuning, beskerming en maatskaplike dienste sal ontvang. Die polisie het aan die departement bevestig dat die saak steeds ondersoek word. ‘n Beroep is ook deur die departement op die publiek gedoen om die meisies se privaatheid en waardigheid te beskerm.