Brekende Nuus
Misdaad

Pa van Carnarvon kry tronkstraf vir ontvoering van sy baba

Foto: Ter illustrasie

NOORD-KAAP. – ’n 37-jarige man is tot ses jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die ontvoering van sy twee weke oue dogter in Carnarvon. Hy het die babadogter in die teenwoordigheid van polisiebeamptes aan haar voete rondgeswaai.

Volgens polisiewoordoerder, lt.kol. Thabo Litabe, is die polisie op 17 Junie kort ná 21:00 na ’n woning ontbied nadat die man die baba na bewering met geweld van haar ma weggeneem het. Hy het gedreig om haar dood te maak indien iemand die plakkershut waarheen hy die kind geneem het, probeer binnegaan.

Met hul aankoms het polisiebeamptes probeer om die situasie te ontlont. Die man het egter aggressief geraak en beamptes het na bewering gesien hoe hy die baba aan haar voete vashou en rondswaai. Hy het uiteindelik aan die slaap geraak, waarna die polisie toegang tot die plakkershut verkry en die baba gered het. Hy is in hegtenis geneem nadat hy bo-op die kind gaan lê het. Die baba was lewend gevind en is onmiddellik vir ‘n mediese ondersoek en behandeling na ‘n hospitaal geneem.

Die saak is deur speur.sers. Marlon Eksteen van die Carnarvon-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek. Aanvanklik is die man van ontvoering en poging tot moord aangekla, maar uiteindelik aan ontvoering skuldig bevind, terwyl die aanklag van poging tot moord later teruggetrek is.

Die Carnarvon-streekhof het hom tot ses jaar direkte gevangenisstraf gevonnis en het hom ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.