KWAZULU-NATAL. – Een verdagte is Vrydagoggend doodgeskiet, terwyl vyf verdagtes in hegtenis geneem is in verband met die moord op twee misdaadintelligensiebeamptes. Kapt. Louis Nel en sers. Mandla Khuzwayo is in April tydens ’n hinderlaag in Mount Edgecombe doodgeskiet. Tydens vanoggend se operasie was daar vir amper drie uur lank op polisiebeamptes geskiet.
Volgens kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, is ’n ondersoek ná die aanval geloods. Vyf verdagtes is in Pinetown, Amanzimtoti, Mandeni en Newlands-Wes in hegtenis geneem.
’n Sesde verdagte het glo geweier om hom aan die polisie oor te gee en het vanuit ’n huis vir ongeveer drie uur op beamptes geskiet. Onderhandelinge het voortgeduur totdat hy sy vriendin, wat ook in die huis was, vrygelaat het. Die verdagte is later tydens die operasie noodlottig gewond. ’n Spesiale Taakmag-beampte is in die hand geskiet, maar het ná noodhulp volgens die polisie goed gevaar.
Die vyf verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.