Brekende Nuus
Nuus

3 000 kruise in die VSA ter nagedagtenis aan slagoffers van plaasmoorde

Foto: Lex Libertas

Kyk die dokumentêr aan die einde van die berig.

VSA. – 3 000 wit kruise is op die National Mall in Washington, D.C. opgerig as deel van Lex Libertas se White Cross Project, ’n internasionale veldtog wat aandag wil vestig op plaasaanvalle en plaasmoorde in Suid-Afrika. Die kruise, wat die name van slagoffers dra, vorm die middelpunt van die projek se waak wat vandag 26 September in die Amerikaanse hoofstad plaasvind.

Volgens Lex Libertas is die White Cross Project saam met die New York Young Republican Club georganiseer en vorm dit deel van ’n groter veldtog wat ook ’n konferensie, dokumentêre rolprent en petisieveldtog insluit. Die organisasie het in Augustus ’n voorlopige lys van 2 203 name gepubliseer wat deur sy navorsingskomitee geïdentifiseer en volgens die organisasie geverifieer is, terwyl die uiteindelike projek 3 000 kruise bevat. Die organisasie se veldtog fokus op plaasaanvalle en landelike veiligheid, politieke aanhitsing van geweld, rasgebaseerde wetgewing en eiendomsregte. Lex Libertas sê hy wil deur die veldtog internasionale steun werf vir onder meer vreedsame desentralisasie en selfbestuur in Suid-Afrika.

Die projek het ook ’n konferensie op 25 September by die National Press Club in Washington ingesluit, waar oor plaasaanvalle, landelike veiligheid, eiendomsregte en grondwetlike oplossings gepraat is. Slagoffers van plaasaanvalle en familielede van slagoffers neem aan die program deel. Die dokumentêr Crossed Out: Confronting Persecution in South Africa vorm ook deel van die veldtog.