Brekende Nuus
Nuus

Matlala en 15 ander se korrupsiesaak van R228 m. uitgestel

Foto: Matjhiding News Updates

GAUTENG. – Die korrupsiesaak teen Vusimuzi “Cat” Matlala en 15 medeverdagtes oor die beweerde onreëlmatige toekenning van ’n R228 miljoen-kontrak aan Medicare 24 Tshwane District is tot 17 November uitgestel.

Henry Mamothame, Idac-woordvoerder, sê die Pretoria-streekhof het die saak uitgestel sodat die hersieningspaneel sy beoordeling van die geldigheid van die aanklagte teen die beskuldigdes kan voltooi. Die nasionale direkteur van openbare vervolgings moet daarna ’n opdrag gee oor die pad vorentoe. 

Die uitstel vorm deel van die IDAC Reset Project, wat die hersiening van alle sake deur ’n hersieningspaneel van senior aanklaers van die nasionale vervolgingsgesag en senior prokureurs van die spesiale ondersoekeenheid behels. Die proses is daarop gemik om te verseker dat alle wetlike voorskrifte gevolg is en om te bepaal of die getuienis in die sake aan die minimum vereistes vir skuldigbevindings voldoen.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van korrupsie wat verband hou met die beweerde onreëlmatige toekenning van ’n kontrak ter waarde van ongeveer R228 miljoen aan Medicare 24 Tshwane District, ’n maatskappy wat deur Matlala besit word. 

Idac sê die NVG bly daartoe verbind om te verseker dat alle wetlike voorskrifte nagekom word wanneer sake van beweerde korrupsie vervolg word.