Brekende Nuus
Nuus

Clancy se regsverteenwoordiging verander ná dooiepunt in verhoor

Foto: The Heard Foundation

VSA. – Lindsay Clancy se regsverteenwoordiger het Dinsdag in die hof aangevoer daar is nie genoeg bewyse dat sy haar drie kinders vermoor het nie. Die kinders, Cora (5), Dawson (3) en Callan (8 mnde.) is in Januarie 2023 in die kelder van die gesin se huis in Duxbury, Massachusetts, dood aangetref. Clancy het ná die voorval in ’n poging om haar eie lewe te neem haarself ernstig beseer.

Die 36-jarige Clancy se eerste moordverhoor het op 4 September in ’n dooiepunt geëindig nadat die jurie nie ’n eenparige beslissing kon bereik nie. Elf jurielede was volgens berigte ten gunste daarvan om haar op grond van geestesongesteldheid onskuldig te bevind, terwyl een jurielid nie daarmee saamgestem het nie. Die regter het die verhoor daarna nietig verklaar. 

Clancy se prokureur, Kevin Reddington, het tydens Dinsdag se hofverskyning ’n nuwe argument aangevoer en die hof gevra om die saak van die hand te wys. Hy het gesê die saak berus op bespiegeling en bevraagteken waar die bewys is dat Clancy haar kinders vermoor het. Tydens die oorspronklike verhoor het die verdediging egter nie betwis dat Clancy die kinders se dood veroorsaak het nie, maar aangevoer dat sy weens postpartum-psigose nie strafregtelik verantwoordelik was nie.

Die aanklaer, Shanan Buckingham, het die nuwe argument verwerp en gesê daar is uitgebreide getuienis en fisiese bewyse wat Clancy met die kinders se dood verbind. Volgens die aanklaer was Clancy die enigste persoon wat saam met die kinders in die huis was en is haar DNS op die oefenbande gevind wat gebruik is om hulle te verwurg. 

Die aanklaer se kantoor het nog nie besluit of Clancy weer op aanklagte van moord verhoor sal word nie. Die verdediging het intussen ook versoek dat die strafsaak van die hand gewys word. ’n Verdere hofdatum is vir 2 November vasgestel, terwyl ’n nuwe verhoor, indien dit voortgaan, volgens die jongste berigte nie voor Junie 2027 sal plaasvind nie.

Die kelderkamer waar die kinders gekry is. Foto: Massachusetts State Police Crime Scene Services Section (CSSS) 

Bronne: AP News, The Washington Post, ABC News, WBUR, CBS Boston