Brekende Nuus
Nuus

Days of Our Lives-akteur sterf

Foto: Entertainment Weekly

VSA. – Robert Kelker-Kelly, die Amerikaanse akteur wat veral bekend was vir sy rol as Bo Brady in die langlopende sepie Days of Our Lives, is op 62-jarige ouderdom oorlede.

Kelker-Kelly is Saterdag 3 Oktober 2026 by sy huis in St. Peters, Missouri, dood. St. Peters-polisiebeamptes is omstreeks 20:15 na sy huis nadat aangemeld is dat ’n bewustelose man nie asemhaal nie. KPR was reeds aan die gang toe die polisie opdaag en verdere lewensreddende pogings deur nooddienspersoneel was onsuksesvol. 

Volgens die polisie het Kelker-Kelly kort voordat hy bewusteloos geraak het oor borspyn gekla. Die owerhede het geen verdagte omstandighede op die toneel gevind nie. Die amptelike doodsoorsaak is nog nie bekend gemaak nie.

Kelker-Kelly het sy televisieloopbaan in 1987 met Another World begin. Hy het in 1992 die rol van Bo Brady in Days of Our Lives vir drie jaar oorgeneem tot Peter Reckell na die rol teruggekeer het. Kelker-Kelly het later ook as Stavros Cassadine in General Hospital verskyn. Hy het in sy loopbaan twee Soap Opera Digest-toekennings ontvang, onder meer vir uitstaande hoofakteur. Hy het later ook as ’n professionele vlieënier gewerk.

Bronne: The Independent, Los Angeles Times, People, Variety, USA Today, The Hollywood Reporter