GAUTENG. – ’n Voormalige polisiegeneraal (57) is in hegtenis geneem, nadat meer as 100 rondtes ammunisie wat deur die polisiediens uitgereik is, onder meer R5- en 9 mm-ammunisie, na bewering onregmatig in sy besit gevind is.
Hy sal na verwagting vandag op ’n aanklag van onregmatige besit van ammunisie ingevolge die vuurwapenbeheerwet in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
Volgens brig. Athlenda Mathe, die nasionale polisiewoordvoerder, hou dit verband met ’n deursoekings-en-beslagleggingsoperasie wat die polisie se nasionale eenheid, wat met onafgehandelde sake (cold cases) werk, op 6 Julie 2026 by die man se woning in Centurion uitgevoer het.
Daar is op dokumente en elektroniese toestelle beslag gelê as deel van die ondersoek ná die moord op lt.genl. Sindile Mfazi. Die voormalige generaal het die polisiediens in 2009 verlaat en volgens die verklaring is daar geen geldige rede vir sy besit van die polisie se ammunisie nie.