GAUTENG. – Shadrack Mongo Sibiya (59), voormalige adjunk- nasionale polisiekommissaris, is borgtog geweier in ’n saak waarin hy teregstaan op vyf aanklagte wat verband hou met beweerde verkragting, mensehandel en die seksuele voorbereiding van ’n kind vir uitbuiting.
Die Randburgse landdroshof het beslis dat hy nie op borgtog vrygelaat word nie. Die saak is vir verdere ondersoek tot 24 November uitgestel. Kaizer Kganyago, NVG-woordvoerder, sê die staat het aangevoer dat die klaers kwesbaar is en dat hul veiligheid in gedrang kan kom indien Sibiya vrygelaat word. Die staat het ook gewaarsku oor die moontlikheid dat getuies geïntimideer of met bewyse gepeuter kan word.
Volgens die NVG behels die aanklagte onder meer bewerings dat ’n kind tussen 20 Julie en 3 Augustus 2026 deur elektroniese kommunikasie seksueel voorberei is vir uitbuiting, asook ’n beweerde verkragting van ’n volwasse vrou op 16 Mei 2026. Die mensehandel-aanklag hou verband met bewerings waarby drie mense betrokke is.