Brekende Nuus
Nuus

Vrou en medepligtige vas ná beweerde skynontvoering

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n 37-jarige vrou wat vroeër vandeesmaand as ’n ontvoeringslagoffer aangemeld is, is nou saam met ’n medepligtige in hegtenis geneem nadat die polisie bevind het die ontvoering is na bewering gepleeg om losprysgeld af te pers. Die polisie waarsku die publiek daarteen om vals misdaadverslae in te dien of misdade te versin, aangesien dit noodsaaklike polisiehulpbronne van werklike noodgevalle wegneem en misdaadbekamping bemoeilik.

Die vrou is op 20 Oktober saam met haar beweerde medepligtige in hegtenis geneem ná ’n ondersoek deur speurders van Kwa-Thema, die teenontvoeringseenheid en misdaadintelligensie. Die saak is aanvanklik op 8 Oktober by die polisie aangemeld, nadat ’n familielid berig het dat die vrou ontvoer is en dat ’n losprys van R40 000 geëis is. Sy is twee dae later langs Vlakfonteinweg naby die Marikana- informele nedersetting gevind en is met beserings aan haar hande hospitaal toe geneem.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê die ondersoek het aan die lig gebring dat die vrou na bewering met haar medepligtige saamgespan het om die ontvoering te versin en geld by haar neef af te pers. Die twee verdagtes sal na verwagting op aanklagte van regsverydeling, afpersing en die voorgee van ’n misdaadtoneel in die hof verskyn.