Brekende Nuus
Munisipaliteite

De Waalpark: Stad antwoord oor onderhoud, maar begrotingsyfers bly uitstaande

Die Stad Kaapstad het op klagtes oor onderhoud en veiligheid in De Waalpark gereageer, maar die park se onderhoudsbegroting en ’n volledige uiteensetting van besteding is nog uitstaande.

Grasperke, palms en bome in De Waalpark, Kaapstad
De Waalpark in Kaapstad. Foto: Verskaf

Die Stad Kaapstad het op klagtes oor onderhoud en veiligheid in De Waalpark gereageer, maar kon nog nie die park se jaarlikse onderhoudsbegroting of ’n volledige uiteensetting van onlangse besteding verskaf nie.

Dit volg op ’n Nuusflits-navraag oor inwoners se kommer oor beskadigde bankies, verslete vullisdromme, rommel, graffiti en elektriese toebehore wat na bewering onvoldoende vasgemaak is.

Francine Higham, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die Stad is bewus van onderhoudskwessies wat inwoners aangemeld het. Volgens haar word dit deur gereelde instandhouding, inspeksies en diensversoeke hanteer.

Die Stad meld onderhouds- en herstelwerk ter waarde van R1,54 miljoen in 2026. ’n Nuwe voetgangerspaadjie aan die Moltenoweg-kant van die park is volgens die Stad in Junie teen ongeveer R848 000 voltooi.

’n Gespesifiseerde uiteensetting van die besteding, met voltooiingsdatums, was egter nog nie beskikbaar nie. Die Stad sê dié inligting sal verskaf word sodra dit geverifieer is.

Die park se bedryfs- en onderhoudsbegrotings vir die boekjare 2025/26 en 2026/27, asook die finale koste en begrotingsbronne vir die buiteluggimnasium en die herstel van die historiese musiekpaviljoen, moet ook nog bevestig word.

Wie is verantwoordelik vir De Waalpark?

Volgens Higham is die Stad se departement ontspanning en parke verantwoordelik vir De Waalpark se bestuur, instandhouding en daaglikse bedryf. Dit sluit die terrein, ontspanningsgeriewe en openbare geriewe in.

Die Stad sê hy verskaf skoonmaak- en onderhoudsdienste, ’n toiletopsigter op elke dag waarop die park oop is en twee veldwagters wat 24-uur-sekuriteit bied.

Weeklikse inspeksies word volgens die Stad aangevul deur omvattende maandelikse bedryfsinspeksies. Op ’n vraag oor wanneer die jongste inspeksie plaasgevind het, het die Stad slegs aangedui dat dit deel van die gereelde maandelikse program was. Geen datum is verstrek nie.

Oor elektriese toebehore aan lamppale wat met versperringsband gemerk is, sê die Stad die betrokke tegniese departement het die installasies ondersoek. Volgens die Stad dui die band aan dat infrastruktuur herstelwerk benodig en beteken die teenwoordigheid daarvan op sigself nie dat daar ’n veiligheidsrisiko vir die publiek is nie.

Herstelwerk oor die afgelope vyf jaar

Die Stad sê werk oor die afgelope vyf jaar het herstelwerk aan bankies, speeltoerusting, paadjies, hekke en buitemure ingesluit. Ou vullisdromme en naamborde is vervang, lekkende krane is herstel en boomonderhoud is gedoen. Die fonteine is twee keer opgeknap, terwyl die musiekpaviljoen en ablusiegeriewe ook herstel is.

Die verkrygingsproses vir herstelwerk aan die buitemuur ná die mees onlangse boomval is volgens die Stad aan die gang.

Higham sê sekere herstelwerk neem langer wanneer spesialiskontrakteurs, verkrygingsprosesse of ander stadsdepartemente betrokke is.

Kapitaalprojekte teenoor roetineonderhoud

Op inwoners se vrae oor waarom geld vir groot opgraderings beskikbaar is terwyl kleiner herstelwerk uitstaande bly, sê die Stad kapitaalprojekte en roetineonderhoud word deur afsonderlike begrotingsprosesse befonds. Kapitaalfondse word vir kwalifiserende nuwe infrastruktuur en opgraderings gebruik, terwyl bedryfsbegrotings daaglikse dienste en herstelwerk dek.

Die Stad erken dat opgraderings nie die behoefte aan gereelde onderhoud vervang nie.

Straatwerk-diens en meesterplan vir die park

Bykomende ondersteuning word vanaf 2 November 2026 beplan, wanneer Friends of De Waal Park ’n opsigter- en parkversorgingsdiens deur Straatwerk sal instel. Die diens sal deur die Friends bestuur word en die Stad se bestaande dienste aanvul.

Die Stad sê ’n meesterplan vir die parkgebied, wat die Laer Molteno-reservoirs insluit, is in oorleg met die Friends opgestel. ’n Uitvoerbaarheidstudie word vir die boekjaar 2026/27 beplan om die reservoirs se strukturele toestand en moontlike toekomstige gebruike te ondersoek.

Inwoners word gevra om elke afsonderlike onderhoudsprobleem deur die Stad se amptelike dienskanale aan te meld. Vir klagtes wat lank uitstaande is, moet die bestaande verwysingsnommers verskaf word sodat dit opgevolg kan word.

Volgens die Stad bespoedig duplikaatversoeke nie die proses nie en kan dit administratiewe vertragings veroorsaak.