Brekende Nuus
Nuus

3 vas ná ontdekking van dagga-laboratorium in die Paarl

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat die polisie ’n dagga-kweeklaboratorium in die Paarl ontdek het. Die polisie het beslag gelê op verskeie daggaprodukte, daggaplante, magic mushrooms en toerusting wat gebruik word om daggaprodukte te kweek.

Konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, sê die Paarl se misdaadintelligensie- en misdaadvoorkomingseenhede het Woensdag 27 Oktober omstreeks 10:30 ’n deursoekings-en-beslagleggingslasbrief by ’n huis in De Villiersstraat uitgevoer. Twee mans van 32 en 38 jaar oud en ’n 44-jarige vrou is op die perseel aangetref.

Die drie verdagtes is op aanklagte van dwelmhandel in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in die Paarl-landdroshof verskyn.