GAUTENG. – Drie onbekende mans het na bewering ’n inwoner by ’n eiendom in Vasfontein- landelike gebied, Hammanskraal, gedurende die vroeë oggendure van 27 Oktober beroof en aangerand.
Volgens kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, het die slagoffer aan die polisie gesê hy het omstreeks 22:00 op 26 Oktober gaan slaap, waarna die drie mans, wat na bewering vuurwapens gehad en oorpakke gedra het, ingebreek het. ‘n Venster is gebreek om toegang tot die eiendom te verkry, waarna die mans hom met ‘n voorwerp teen die voorkop geslaan en ‘n skoot geskiet het. Hy het ‘n oop wond opgedoen. Hulle het daarna ’n veiligheidsdeur oopgebreek en hom gedwing om ’n kluis oop te sluit. ’n Onbekende bedrag geld en verskeie huishoudelike items is gesteel voordat die verdagtes gevlug het.
Hammanskraal-polisie ondersoek ’n saak van huisroof. Misdaadtoneelbestuurspersoneel het die toneel besoek om bewysmateriaal in te samel. Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes op te spoor, word versoek om die polisie te kontak.