Brekende Nuus
Nuus

Ramaphosa doen beroep op kiesers om Woensdag te stem

Foto: President Cyril Ramaphosa

President Cyril Ramaphosa doen ’n beroep op alle geregistreerde kiesers om Woensdag 4 November aan die munisipale verkiesing deel te neem en sodoende te help om beter, veiliger en meer welvarende gemeenskappe te bou.

Die verkiesing is een van die grootste in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis, met 546 politieke partye en byna 137 000 kandidate wat meeding om posisies in die land se munisipaliteite. Ramaphosa sê die polisie het die afgelope maande risiko-ontledings, operasionele beplanning en simulasie-oefeninge gedoen om te verseker dat stemdag vreedsaam en veilig verloop. 

Hy waarsku dat politieke mags- en hulpbronkompetisie in munisipaliteite reeds tot geweld, ontwrigting van raadsvergaderings en die moorde op wykskandidate, raadslede en munisipale amptenare gelei het. Ramaphosa sê kiesers het ’n buitengewone keuse van kandidate en partye en moet hul stem gebruik om die toekoms van hul gemeenskappe te help bepaal. Hy beklemtoon dat aktiewe burgerskap en verantwoordelike stemgedrag noodsaaklik is om te verseker dat plaaslike regering sy grondwetlike verantwoordelikhede nakom.

Ramaphosa sê in sy weeklikse brief aan Suid-Afrikaners dat die verkiesing plaasvind terwyl die regering beoog om die plaaslike regeringstelsel ingrypend te hervorm. Die nuwe Witskrif oor Plaaslike Regering, wat verlede maand bekend gestel is, stel onder meer voor dat munisipaliteite se administratiewe vermoë versterk, finansiële bestuur verbeter en korrupsie hokgeslaan word. Munisipale amptenare moet volgens hom op grond van hul kwalifikasies en bekwaamheid aangestel word en aanspreeklik gehou word wanneer openbare fondse misbruik word.

Die voorgestelde hervormings sluit ook in dat inkomste uit die verkoop van water en elektrisiteit afgesonder word om in kritieke infrastruktuur herbelê te word. ’n Verpligte lisensiëringstelsel vir alle water- en elektrisiteitsverskaffers word ook voorgestel, met minimum bevoegdheidstandaarde waaraan verskaffers moet voldoen. 

Volgens Ramaphosa is munisipaliteite verantwoordelik vir die lewering van noodsaaklike dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit, wat nie net die lewensgehalte van inwoners beïnvloed nie, maar ook die grondslag van ’n gesonde ekonomie vorm.

Druk hier om meer te lees.