Berigte oor breinvliesontsteking (meningitis) laat baie ouers onrustig voel, en dit is verstaanbaar. Dr. Elri du Preez van Brits sê egter dat nie alle koors en hoofpyn meningitis beteken nie. Wat saak maak, is om die waarskuwingstekens te ken en vinnig op te tree. “Wat jy wél kan doen, is om jou gesin se inentings na te gaan, betroubare inligting te gebruik en dringend hulp te kry wanneer iemand ongewoon siek is.”
Wat is breinvliesontsteking?
Breinvliesontsteking is ontsteking van die beskermende vliese rondom die brein en rugmurg. Virusse, bakterieë, TB en swamme kan dit veroorsaak, dus verloop nie elke geval dieselfde nie en die behandeling verskil ook.
- Virale meningitis is die algemeenste. Baie mense met ligte gevalle herstel met ondersteunende sorg. Antibiotika werk nie teen virusse nie. Dit kan egter ernstig wees by pasgebore babas en mense met swak immuniteit. “Viraal beteken nie outomaties dat ons dit by die huis kan uitwag nie,” sê Du Preez. Dit moet altyd eers deur ‘n dokter beoordeel word.
- Bakteriële meningitis is ‘n mediese noodgeval. Pasiënte kan binne ure erg versleg. Dit is nie algemeen nie en uitbrake kom gewoonlik in klein groepe voor waar mense nou saamwoon, soos in koshuise en kampe. Meningokokke, pneumokokke en Hib is belangrike oorsake. Meningokokke kan ook bloedvergiftiging (sepsis) veroorsaak, selfs sonder ‘n stywe nek.
- TB-meningitis ontwikkel meer geleidelik, met aanhoudende hoofpyn, koors en gedragsverandering, en vereis dringende behandeling.
- Swammeningitis (kriptokokmeningitis) kom veral voor by mense met gevorderde MIV en lae immuniteit. Dit versprei nie deur gewone kontak nie.
Wat sê die syfers?
Gedurende 2024 het die GERMS-SA-program volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) 150 laboratoriumbevestigde episodes van indringende meningokoksiekte aangeteken, teenoor 107 in 2023. Vir Januarie tot Junie 2026 is 65 episodes aangeteken. Groep B het oorheers, gevolg deur groepe W en Y.
Nios maan dat die getalle klein is en versigtig geïnterpreteer moet word. Die syfers dek net die aggressiewe meningokokvorme, nie alle meningitis nie, en bewys nie op sigself ‘n landwye uitbreking nie.
“Meningokoksiekte kom reeds in Suid-Afrika voor en het gewoonlik ‘n piek tussen Junie en Oktober. Dis nie nuut nie,” sê Du Preez. Plaaslike gerugte of WhatsApp-boodskappe kan slegs met bevestigde plaaslike inligting beoordeel word.
Wie is meer vatbaar?
Enigiemand kan meningitis kry. Babas, mense met verswakte immuniteit en mense sonder ‘n werkende milt verdien ekstra aandag. By meningokoksiekte is tieners en jong volwassenes ook ‘n belangrike risikogroep, veral waar hulle in koshuise saamwoon.
Waarskuwingstekens: kry dadelik hulp
Gaan na ‘n ongevallekamer of bel ‘n ambulans in geval van:
- koors saam met erge of ongewone hoofpyn, ‘n stywe nek, ligsensitiwiteit of herhaalde braking
- verwarring, ongewone gedrag of iemand wat moeilik wakker word
- stuiptrekkings
- vinnige agteruitgang, vinnige asemhaling, erge lyfpyn, of koue hande en voete by iemand wat baie siek lyk
- rooi of pers kolletjies wat nie verbleik wanneer daarop gedruk word nie
By babas kan tekens subtieler wees: swak drink, ongewone slaperigheid, erge prikkelbaarheid, ‘n vreemde huil of ‘n bultende sagte plekkie op die kop. Hulle het nie altyd ‘n stywe nek nie.
“Moenie vir al die simptome wag nie, en moenie vir ‘n uitslag wag nie,” sê Du Preez. Die kenmerkende uitslag kan eers laat verskyn.
Hoe word dit vasgestel?
- Bloedtoetse gee leidrade, maar kan meningitis nie alleen bevestig of uitsluit nie. ‘n Normale uitslag sluit bakteriële meningitis nie veilig uit nie.
- CT- of MRI-skanderings kan komplikasies of ander oorsake ondersoek, maar sluit meningitis nie betroubaar uit nie. Nie elke pasiënt het ‘n skandering nodig voor ‘n lumbaalpunksie nie, en onnodige wag kan behandeling vertraag.
- ‘n Lumbaalpunksie is gewoonlik die belangrikste toets. ‘n Klein hoeveelheid vloeistof rondom die brein en rugmurg word met plaaslike verdowing geneem en in ‘n laboratorium ondersoek. Dit is gewoonlik veilig as dit reg beoordeel en uitgevoer word. Ongemak en daaropvolgende hoofpyn of rugpyn kom voor, maar ernstige komplikasies is skaars.
As bakteriële meningitis vermoed word, moet behandeling begin sonder om vir ‘n LP, skandering of finale uitslae te wag. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes beveel aan dat ‘n lumbaalpunksie by vermoedelike meningokoksiekte in primêre sorg uitgestel word totdat die pasiënt in die hospitaal is.
Du Preez sê ‘n opgeleide huisdokter het wel die vaardigheid om ‘n lumbaalpunksie te doen, maar by vermoedelike akute meningitis is die hospitaal gewoonlik die gepaste plek, met toegang tot monitering, laboratoriumdienste en dringende behandeling. “Die spreekkamer se prioriteit is om die gevaar raak te sien, nodige aanvanklike behandeling te gee en veilige, dringende oorplasing te reël.”
Inentings
Verskillende entstowwe beskerm teen verskillende meningokokgroepe, en die een vervang nie die ander nie:
- Bexsero beskerm teen meningokok B en is beskikbaar vanaf twee maande, in meer as een dosis.
- MenQuadfi dek groepe A, C, W en Y en is beskikbaar vanaf 12 maande, in ‘n enkele dosis. Dit is ‘n ander produk as Menactra, wat dieselfde vier groepe gedek het.
Omdat groep B in die 2026-data oorheers, is Bexsero relevant, maar W en Y kom ook voor. Vir breër beskerming kan albei entstowwe nodig wees, en geen entstof bied volledige beskerming teen elke stam nie. Albei kan meer as R1 000 per inspuiting kos. Ouers moet met hul eie dokter oor die regte keuse praat, veral as ‘n kind binnekort koshuis toe gaan. Du Preez beklemtoon dat hierdie inligting is en nie ‘n aanbeveling van spesifieke produkte nie.
Die gewone babainentings teen Hib en pneumokokke beskerm reeds teen ander belangrike bakteriële oorsake en moet op datum gehou word.
As daar ‘n geval by die skool is
Nie almal in dieselfde skool of gebou het outomaties voorkomende antibiotika nodig nie. By meningokoksiekte bepaal die gesondheidspan wie ‘n noue kontak was, soos huishoudelike kontakte of mense met direkte blootstelling aan speeksel. Dié persone kan antibiotika nodig hê, al voel hulle gesond. Wie dink hy of sy was ‘n noue kontak, moet dieselfde dag raad vra en nie oorblywende antibiotika gebruik nie. Inenting vervang nie voorkomende antibiotika wanneer dit aangedui is nie.
Herstel
Baie mense herstel goed, maar sommige oorlewendes van bakteriële meningitis ontwikkel gehoor-, neurologiese of leerprobleme. Opvolgsorg, insluitend ‘n gehoortoets, kan deel van herstel wees. Vinnige herkenning en behandeling maak ‘n groot verskil.
“By ernstige waarskuwingstekens: gaan na ongevalle of bel ‘n ambulans,” sê Du Preez. “Moenie vir ‘n gewone afspraak, ‘n uitslag op die vel of ‘n WhatsApp-antwoord wag nie.”